Sentour

’n Bronsbeeld van ’n sentour.

Sentoure, kentoure of perdmense (Grieks: Κένταυροι; Kéntauroi) is in die Griekse mitologie wesens wat half mens, half perd is. In die pottebakkerskuns van antieke Griekeland is hulle uitgebeeld met die onderlywe van perde aan hulle vas; in latere weergawes het hulle die bolyf van ’n mens en die onderlyf van ’n perd.

Hierdie uiterlike samesmelting het daartoe gelei dat baie skrywers hulle beskou het as wesens wat vasgevang is tussen die aard van die mens en dié van die perd. Hulle is uitgebeeld as óf die verpersoonliking van die ongetemde natuur, soos in hul stryd teen die Lapiete, óf as onderwysers, soos Chiron. The sentoure was meestal die kinders van Ixion en Nephele (die wolk wat gemaak is om soos Hera te lyk). Volgens ’n ander weergawe was hulle die kinders van ene Centaurus wat met die merries van Magnesië gepaar het. Sentourus was óf self die seun van Ixion en Nephele (wat ’n bykomende geslag tussenin voeg) óf van Apollo en Stilbe, dogter van die riviergod Peneus. In die latere weergawe van die verhaal is sy tweelingbroer Lapitos, voorvader van die Lapiete (dus was die strydende volke neefs.

Sentoure het die Magnesië-gebied, die berg Pelion in Thessalië, die berg Pholoe in Arkadië en die Maleaanse Skiereiland in Suid-Lakonië bewoon.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy